Search

BUURMAN

Vannag lê ek hier op die rusbank, uit vrye keuse. Wel, dit is seker op dieselfde “vlak” van vrye keuse soos die keuse om nie na 20:00 in die aand buite jou huis te wees nie...


Vannag lê ek hier op die rusbank, uit vrye keuse. Wel, dit is seker op dieselfde “vlak” van vrye keuse soos die keuse om nie na 20:00 in die aand buite jou huis te wees nie...


20:45 vanaand trek daar ‘n bekende stem oor jou muur. “Dear fellow South Africans...”


En van daar af was dit net afdraend. Op meer as een manier.


‘n Gefrustreerde nasie luister met ‘n fyn oor. En hoor... niks.


Ongeveer 30 minute van niks.


Ag damnit Weskaap! Moes ons nou regtig klaskaptein wees en so baie toetse doen? Want ons straf is nou vlak 4 wat eintlik beteken dat ons nou eerste EN tweede pouse in die klas moet bly terwyl ander kinders buite baljaar.


Gelukkig ontvang ons almal deesdae tuisonderrig.


Buurman het genoeg gehad - ek vermoed hulle voorraad is op of hulle is moeg om die plaaslike ondergrondse sigaretsmous met ‘n goue R200 lepel te voer vir een pakkie sillas.


Na “God bless SA and protect her people” toets jy jou klanksisteem uit. Nee Gert*, hy klink mooi.


22:00 klim ek in die bed en ek luister onwillekeurig saam na jou Top 40 speellys... ek maak notas.


Genadiglik is ek so moeg dat hierdie ligte slaper saggies wegval op die melodieë van Maroon 5 se “Memories”.


23:00 word ek wakker... dit voel asof jou sisteem nou basies in my huis is. Dankie Elandré vir ‘n plaaslike klankie met “Vuur op die Water” - ek wonder of hulle nog meel het.


En weereens kom ‘n genade-slaap vanuit die hemele.


00:15 word ek weer wakker. Hierdie keer deur ‘n toneel uit “Titanic” en ‘n lied wat ons almal al heeltemal té veel keer gehoor het... Celine Dion sing haar hart uit - “My Heart Will Go On”.


Buurman kry seker swaar.


Of hulle laaste bottel wyn is seker sopas opgedrink.


Ek begin kwaad raak - ek wil so graag net slaap. Op ‘n skool-aand... in suburbia.


En toe kom die volgende lied oor die muur: “Hello from the other side”.


En ek glimlag.


Miskien is ek vanaand in ‘n musiekblyspel... op my rusbank in suburbia.

0 views0 comments

Recent Posts

See All

OMPAD