Search

OMPAD

Ons het mekaar net duskant Fisantekraal gekry. Met Whisky op die agtersitplek het ons die voorste voertuig agternagesit...



Ons het mekaar net duskant Fisantekraal gekry. Met Whisky op die agtersitplek het ons die voorste voertuig agternagesit, al met die kronkelpaaie deur na Murray en die onderwys se wêreld. Daar moes ons ‘n onbeplande noodstop doen want Whisky het haar dure bord kos bo-oor die hondekombers gedeponeer. Sommer binne-in die agterste ‘airvents’. Ironies genoeg het die insident reg oorkant Bains Whisky Distillery... geskied.


Die passasier in die voorste voertuig is gelukkig skrikkerig vir niks - na drie kinders se grootmaak en ‘n lewenslange gemisde roeping as verpleegster - gryp my ma die enigste handdoek en een enkele ‘wet-wipe’ tot ons beskikking.


Ons ry verder in konfooi en in Porterville word die voorwa met loodvry opgetop. Ek en Whisky stop langs die drankwinkel. Dit is ‘n Donderdag maar dit kon netsowel ‘n PC (pre-Corona) Vrydag gewees het. Al verskil is net dat almal maskers dra.


Die witwa trek weer weg met ‘n fyn uitgewerkte “ontsnappings-roete”. ‘n Normale roete wat gewoonlik so net meer as 2 ure vat, is toe ‘n daguitstappie met een passasier wat veel eerder op vaste grond wou wees...


Ons ry tot by die N7, draai regs, en hou duimvas dat die padstal bo-op die berg sal oop wees - nie net vir ‘n opname van skade vanuit die agterste gestoeltes nie - maar ook omdat hulle altyd pasteie, jaffels en lekker granaatsap het. En daar sit ons toe met aankopies en drink ‘n Steri-Stumpie soos die trokke rem slaan met die pas af - Kardoesie is oop!


En toe breek die eintlike rit aan... Paleisheuwel rigting Leipoldtville...


Al wat ek oor die volgende uur se rit wil sê is: dit het gevoel asof ek op Namibiese grondpaaie ry met my stadskar. Ek moes nie daar gewees het nie... na so tydjie begin mens opgee om sekere klippe in die pad te mis.


Leipoldtville het beslis ‘n geografiese verskuiwing gemaak want ek kan nie onthou dat dit so ver is nie. Die lewe vanuit die agterste ruim het ook in stille magteloosheid, oorgegee.

Uiteindelik tref die bande ‘n luukse stuk teer en daar vat hy... soos die laaste stuk na die eindstreep ry ons om skemer te wen. Die son sak met sy goue kleed oor die Verlore Vlei en ek voel alreeds tuis.


Sewe dae op verlate strande. En ek voel asof die wêreld miskien nog hoop het.


*Vrywaring: ek promofeer geen spesifieke roete vir ontduiking nie... hierdie is ook nie geskryf as skulderkenning nie maar as my poëtiese vryheid - so die wat vingers wil wys, kan gerus wys. Daar is mos altyd ‘n Klaskaptein of Internettrol iewers agter ‘n brawe skerm.

5 views0 comments

Recent Posts

See All